Omsendbriewe

OMSENDBRIEF 8 VAN 2018

Artikel - Bladsye

OM INSURE AGRIFEES 2018

Hiermee wil ek ʼn opregte dankie sê vir elke ouer se bydrae om van hierdie fees ʼn sukses te maak - wat dit beslis na ons oordeel was!  Baie dankie vir die gesindheid waarmee dinge gedoen en gegee is.  Ek dink byvoorbeeld aan ouers wat ver bly en ʼn dagreis moes aflê om hier te wees.  Ons waardeer dit, maar ek kan julle die versekering gee dat julle kinders dit nog meer waardeer!  Ek glo dat hulle die voorbeeld wat julle stel, eendag gaan navolg en ook vir hul kinders en hul kinders se skool gaan doen wat julle gedoen het.  Dan is daar mense wat gee – onvoorwaardelik gee, en dan gaan dit nie vir my oor die hoeveelheid of geldwaarde nie, maar oor die gesindheid.  Baie dankie daarvoor. 

Dankie vir die gesindheid en gees waarmee gewerk is – julle het dit so lekker laat lyk dat ek eintlik lus geraak het om saam met julle te doen wat julle doen!  Die glimlagte in die kiosk en rondom die braaivleisvure terwyl dit warm is, maak alles oor en oor die moeite werd.  Mense wat ongesiens gehelp het – baie dankie!  Besoekers van ander skole meld herhaaldelik hoe jaloers hulle is op dit wat ons het in ons seuns en hul ouers en ons ouerbetrokkenheid.  Al wat ek dan kan antwoord, is dat ons baie bevoorreg is en dat juis dit Boland Landbou die skool maak wat dit is!  Ons krag lê immers in ons saamstaan en ons saamwerk.

Aan Mineke Fourie, voorsitter van die OOV, en al haar helpers wat van Donderdagaand af voorberei het vir die fees, ‘n opregte dankie!  Pieter Theron het die organisasie van die groentetafel behartig en 'n sukses daarvan gemaak - baie dankie daarvoor!  Dewald Vorster het ‘n reuse bydrae gemaak dat vanjaar se tafel uiters suksesvol was.

Laastens maar nie die minste nie, dankie aan ons seuns vir hul netjiese voorkoms, vriendelikheid en hulpvaardigheid die afgelope naweek.  Julle bly ons skool se hoofbemarkers en julle het dit puik gedoen – met die verkope, by Mej Boland, op die rugbyveld en op die pawiljoen.  Die matrieks wat die bediening by die ontbyt behartig het, julle het ons trots gemaak met die manier waarop julle dit gedoen het en bewys dat 'n Bolander se hande vir niks verkeerd staan nie!  Die fees is gehou om vir ons seuns geld in te samel en julle het dit vir ons die moeite werd gemaak!  Ons is baie trots op ons trotse Bolanders!!

OMI AGRIFEES LOOTJIES

Die gelukkige wenners van die OM Insure Agri-fees lootjies is: 

Eerste prys  :           Mathilda Trotzky  

Tweede prys :           C Snyman 

Derde prys   :           Alida Reynolds

Geniet julle pryse.                                                                                                                 Marlette van Wyk

KLEREWINKEL : TYE VIR MAART/APRIL

Saterdag 24 Maart 2018        -           08:30 - 10:00

Maandag 26 Maart 2018       -           16:30 - 17:30

Tweede kwartaal

Dinsdag 10 April 2018           -           16:30 -17:30

Res van kwartaal elke Dinsdag          17:00 - 17:30 tensy anders gereël.

Ook met elke tuis wedstryd Saterdae 08:30 - 11:00.                                                                Pierre Schoeman

MEJ BOLAND

Weereens baie dankie aan al ons borge, die deelnemers asook Eureka en Willem du Toit, hul werkers en Lana en Wim du Toit vir die décor van die aand.  Ons waardeer dit opreg.                                          René Bester Felder

ONTBYT

Om so ‘n wonderlike ontbyt voor te sit, moet daar hard agter die skerms gewerk word.  Spesiale dank aan Annalize Cillers wat as sameroeper opgetree het.  Vir jou en al die mammas en pappas wat gehelp het, ongelooflik baie dankie. Sonder skenkings kan die ontbyt nie voorgesit word nie.  Julle opofferings vir Boland Landbou word opreg waardeer.                                                                                                                             Prieur du Plessis

VLEISTAFEL

‘n Groot dankie aan elke ouer wat bygedra het met lewende hawe en vleis vir ons vleistafel tydens die afgelope OMI-fees!  Dit sou nie moontlik gewees het om van die dag ‘n sukses te maak sonder u bydraes nie.

 Cobus van Coller

WOENSDAG 28 MAART 2018

Daar is ʼn reëling met die seuns gemaak rakende die laaste skooldag wat om 11:00 eindig.  Vra asseblief vir u seun wat is die presiese reëlings rondom hierdie dag.                                                                       Cobus van Coller

OLD MUTUAL INSURE AGRIFEES RUGBY UITSLAE

Vrydag 16 Maart het ons ‘n baie suksesvolle Laerskole Rugbydag aangebied.  Twintig o.13A-rugbyspanne, agtien o.11A-rugbyspanne en twee o.10A-rugbyspanne regoor die Boland en WP het aan ons rugbydag deelgeneem.  Dit was werklik ‘n reuse sukses.  Die laerskoolseuns het dit ongelooflik geniet en die skole het ons reeds in kennis gestel dat hulle beslis weer wil deelneem in 2019.  Aangesien die meeste laerskoolseuns nog nooit by Boland Landbouskool was nie, is dit baie goeie bemarking vir ons skool.

Saterdag 17 Maart het 28 spanne aan ons jaarlikse Boland Landbou Old Mutual Insure Agri Rugbydag vir o.19A-spanne deelgeneem.  Hierdie dag was ook ‘n reuse sukses.  Dit is die meeste skole se eerste wedstryde en spanne gebruik hierdie dag om hulle spanne uit te sorteer vir die seisoen wat voorlê.  Vanjaar het ons o.19A-rugbyspan in die hoofwedstryd van die dag teen die Hoërskool Garsfontein gespeel en ongelukkig 20 – 24 verloor.

Dit was ‘n uitstekende wedstryd en goeie voorbereiding vir ons seisoen.  Ons tweede rugbyspan het vir SACS se tweedespan 10 – 5 geklop maar ongelukkig teen Stellenberg se tweedespan 0 – 20 verloor.              Oloff Bergh

WES-KAAP JEUGSKOU KAMPIOENSKAPPE

3 van ons seuns het Woensdag 21 Maart aan die Wes-Kaap Jeugskou Kampioenskappe op George deelgeneem. Ons het die volgende plekke behaal:

o     Aristo Kruger 8ste plek (vleisbees)

o     Janru Nieuwoudt 10de plek (vleisbees)

o     Wilhelm van Noordwyk 1ste plek (vleisskaap)

Baie geluk aan hierdie manne!                                                                                                 Handro le Roux

SPORT

ATLETIEK:

Boland Kampioenskappe

Sewentien van ons atlete het op Vrydag 2 en Saterdag 3 Maart aan die Boland Kampioenskappe deelgeneem.  Die volgende pragtige prestasies is behaal.  Stefan du Preez wen goud in die Hoogspring seuns o.14 met ‘n hoogte van 1.70 m.  JC Nothnagel behaal ‘n silwer medalje in die Spiesgooi seuns o.14 met ‘n afstand van 44.62 m, Franco Nolan wen goud in die Gewigstoot seuns o.14 met ‘n afstand van 13.64 m en Reuben Joubert wen brons in die Spiesgooi seuns o.14 met ‘n afstand van 43.23 m.

In die o.15 afdeling behaal Dieter Mohr ‘n eerste plek in die Diskus met ‘n afstand van 51.18 m en ‘n derde plek in die Gewigstoot met ‘n afstand van 14.19 m, Rudi Willemse het in die 100mH ‘n derde plek behaal met ‘n tyd van 14.36 s en JP Du Plessis het in die Hamergooi ‘n eerste plek behaal met ‘n afstand van 48.22 m.  Juanu Olivier het ‘n tweede plek verower in die Hamergooi seuns o.17 met ‘n afstand van 54.95 m.  Dian Kenny het in die 10 000 m stap ‘n derde plek behaal met ‘n tyd van 59:20.14.

Wes-Kaap Kampioenskappe

Nege van ons atlete was lid van die Boland Atletiekspan wat op Vrydag 9 en Saterdag 10 Maart deelgeneem het aan die Wes-Kaap Kampioenskappe.

Na afloop van hierdie byeenkoms is twee van ons atlete ingesluit in die Wes-Kaap span wat aan die SA Skole Atletiek Kampioenskappe in Potchefstroom deelneem vanaf 21 tot 24 Maart.  Hierdie manne is Juanu Olivier wat ‘n brons medalje gewen het in die Hamergooi seuns o.17 met ‘n afstand van 57.67 m en JP Du Plessis wat ‘n silwer medalje gewen het in die seuns o.15 Hamergooi met ‘n afstand van 43.87 m.

Ander pragtige prestasies by die Wes-Kaap Kampioenskappe was Reuben Joubert met ‘n derde plek in die seuns o.14 Spiesgooi met ‘n afstand van 43.41 m en JC Nothnagel met ‘n vierde plek ook in die seuns o.14 Spiesgooi met ‘n afstand van 42.96 m.  Franco Nolan behaal hier ‘n tweede plek in die Gewigstoot seuns o.14 met ‘n afstand van 14.01 m.‘

Rudi Willemse het in die seuns o.15 100mH ‘n vierde plek behaal met tyd van 13.82 s.

Dian Kenny het in die seuns o.19 stap ‘n vyfde plek behaal met ‘n tyd van 54:42.59.

Baie geluk aan al ons atlete wat ons skool verteenwoordig het by die Boland Sentraal, Boland Kampioenskappe en die Wes-Kaap Kampioenskappe.  Julle het ons voorwaar trots gemaak met pragtige prestasies.  Baie geluk aan elke atleet wat sy persoonlike beste bereik het in sy item.  Dit getuig van harde werk.

TENNIS

Baie geluk aan Ruben Joubert wat gekies is as lid van die Boland o.15B-span wat op 23 en 24 Maart op Stellenbosch deelneem aan die Mini Interpro toernooi.  Ons is baie trots op jou!                         Ronél Bernardo

BOLAND LANDBOU vs WYNBERG  -  TUIS

SATERDAG 24 MAART 2018

SPAN

OPPOSISIE

VELD

TYD

o.15A

WYNBERG

A-VELD

08:30

o.16A

WYNBERG

A-VELD

09:30

o.14B

WYNBERG

B-VELD

08:30

o.14A

WYNBERG

B-VELD

09:30

 

C J FOURIE

SKOOLHOOF

2018-03-23