Meer oor

Kultuur

Junior Landbouvereniging

Die Junior Landbouvereniging van Boland Landbou is veel meer as net ‘n klub; dit is ‘n dinamiese jeugorganisasie wat landbou-georiënteerde leerders met ‘n brandende passie vir die landboubedryf saamsnoer. Ons primêre doel is om jeugontwikkeling binne die bedryf te bevorder en om ‘n brug te bou tussen ons leerders en die breër landbougemeenskap. Ons lede verteenwoordig Boland Landbou met trots by groot maatskappye en instansies wat hand aan hand met ons skool werk.


 

Wat Ons Doen

  • Maatskappybesoeke en Landbou-ervarings: Ons organiseer gereeld uitstappies na vooraanstaande instansies soos Fairview, Equaliser, Leeuwenkuil Wynkelder, Windmeul Wynkelder, die F1 Pakstoor in Franschhoek, en vele ander besighede. Hierdie besoeke gee lede die unieke geleentheid om die landboubedryf van binne te beleef.
  • Sprekersessies: Ons nooi inspirerende sprekers om hul kennis en ervaring met ons lede en die skoolgemeenskap te deel. Jongboer van die Jaar 2023, Christi van der Heever, en verteenwoordigers van MatchExchange is maar enkele van die kenners wat reeds oor hul rol en die belangrikheid van hul betrokkenheid in die landboubedryf kom gesels het.
  • Gestruktureerde Opleiding: Elke lid van die vereniging voltooi jaarliks ‘n Agri Wes-Kaap georganiseerde landboukursus. Dit rus hulle toe met die nodige kennis en vaardighede om formele aksies binne die landboubedryf aan te pak en lê ‘n stewige grondslag vir hul toekomstige deelname in die sektor.

 

Ons Diens aan die Skool en Gemeenskap

Die Junior Landbouvereniging speel ook ‘n sleutelrol in die ontwikkeling en instandhouding van die skool se plaasinfrastruktuur:

  • Plaasinfrastruktuurprojekte: Ons lede is betrokke by praktiese projekte soos die opknapping en verbetering van die skaapkrale en die wolskuur. Hulle het ook die hoenderhokke wat deel vorm van die graad 8’s se hoenderhokprojek herstel en verbeter. Hierdie inisiatiewe dra direk by tot die verbetering van ons skool se landboufasiliteite.
  • Die Wynkelder Droomprojek: Ons grootste droomprojek is die oprigting van Boland Landbou se eie wynkelder. Dit sal ‘n monumentale stap wees in die skool se landbouterugvoeringsprojekte en ‘n blywende nalatenskap vir toekomstige geslagte..

 

Wie Ons Is

Die Junior Landbouvereniging bestaan uit ‘n groep uitgesoekte lede vanuit verskillende ouderdomsgroepe van die skool. Hierdie leerders verteenwoordig hul medeleerders en die skool met trots op landbouvlak en staan bekend as jong ambassadeurs van die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou.

Vir meer inligting, kontak gerus Me. Ané Zevenster by az@bolandlandbou.com.